Rookgewoonte

Rookgewoonte

Rook hou baie nadelige gevolge vir die mens se gesondheid in. Die skadelikste stowwe in tabakrook is teer, koolstofmonoksied en nikotien. Daar is reeds bewys dat minstens 15 teerprodukte direk of indirek kanker veroorsaak. Die sterk verhoogde kans op hart- en bloedvatsiektes (onder andere ook hartaanval) by rokers word waarskynlik veroorsaak deur die langdurige blootstelling aan nikotien en koolstofmonoksied. Die gebruik van tabak het in Europa ontstaan kort na die ontdekking van Amerika, waar die moontlikhede van die tabakplant lank reeds bekend was.

Dit is byvoorbeeld bekend dat die rookgewoonte reeds aan die begin van die Christelike jaartelling in Meksiko beoefen is. Rook het vroeër 'n godsdienstige betekenis vir sommige Indiaanse stamme gehad, en geneeskundige waarde is aan tabak toegeken. Selfs vandag nog word 'n bepaalde betekenis hieraan geheg. Ook by die bekendstelling daarvan in Europa was een van die omstrede oogmerke die toepassing as geneesmiddel.

Die mens het egter baie gou tabak ook vir sy plesier begin gebruik. Aanvanklik het dit veral plaasgevind in die vorm van die snuif van tabakpoeier; later het pyprook en die kou van stukkies tabak (pruim) in die mode gekom. Sigarette het eers in die 19e eeu gewild begin raak. Aanvanklik moes die sigaret met die hand gedraai word, maar sedert 1884 is dit masjienvervaardig. In Europa het die geweldige toename in die rook van sigarette na die Eerste Wêreldoorlog waarskynlik in navolging van die Engelse en Amerikaanse soldate begin.

Sedertdien het die gebruik van sigarette geweldig gestyg. Die toename in die gebruik van sigarette by vroue dateer van veral na die Tweede Wêreldoorlog. Die grootste gedeelte van die prys van tabakprodukte beland in die staatskas in die vorm van verkoops- en aksynsbelasting. Tabak het nog altyd onder 'n hoë aksynsdruk gebuk gegaan: in Engeland is hierdie belasting deur Jakobus I (1566-1625) ingestel omdat die verbod op die verbruik van tabak wat deur die kerk uitgevaardig was, weinig sukses behaal het. Tabak is gesnyde blaar van die tabakplant (Nicotiana tabacum), wat in baie lande van die wêreld wild groei. Die plant het sy naam te danke aan die Franse gesant in Portugal, Jean Nicot de Villemain (15301600), wat die plant na Frankryk ingevoer het. Een van die belangrikste bestanddele van tabak is die alkaloïed nikotien, wat in klein hoeveelhede in die blare voorkom. Daarnaas bevat tabakrook diverse stowwe in die vorm van gasse (onder andere koolstofmonoksied) en vaste stowwe (teerprodukte). By die beoordeling van sigarette word daar op die nikotien- sowel as die teergehalte van die sigaret gelet. Tabakrook beland by die roker in die mond- en keelholte en deur inaseming ook in die longe.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search